‘n Storie van ‘n Kuierplek, ‘n Kinderboelie en ‘n Rassevoorval

Guillaume Smit

Die Spur-of-the-moment Voorval

Die laaste weerklanke van die Spur-voorval het kwalik die internet getref of die menings daaroor het die kuberruimte begin vul.  Op die oog af lyk die algemene konsensus van die saak of dit ‘n vieslike rasse-voorval is tussen twee mense waarvan een bes moontlik boonop aggressie-kwessies het.

Vir dié van ons wat die afgelope week iewers onder ‘n klip gebly het, kortliks die storie: Op Menseregtedag het ‘n (swart) vrou saam met familie en vriende ‘n kinderpartytjie by een van Spur se vele takke gehou. Deur die loop van die partytjie het ‘n (wit) man haar kom konfronteer oor – volgens hom – haar kind wat sy kind geboelie het. ‘n Woordewisseling met erg gekruide taal het ontstaan. Die man het so kwaad geraak dat hy die vrou begin dreig en geweldadig geraak het. Iemand het dit alles met ‘n selfoon afgeneem en die video is op Facebook geplaas. Dié video het oornag ‘n internetsensasie geraak, maar vir al die verkeerde redes. Spur het die vrou se weergawe van die voorval aanvaar en die man is verban om ooit weer by Spur te eet.

Intussen is die hele Suid-Afrika kwaad hieroor. Dis rassisme, die arme vrou, sê een groep mense. Dis rassisme, die arme man, sê ‘n ander groep mense (hulle het selfs ‘n Facebookblad begin wat mense vra om Spur te boikot). Nog ‘n mening speel in op die genderkwessie en die feit dat die ou ‘n wit, Afrikaanse man is met die ou Suid-Afrika mentaliteit in sy onderbewussyn. Spur se topbestuur probeer keer vir al wat hulle werd is om nie mark-aandeel te verloor nie. En tussendeur flits die internetmemes die wêreld vol soos die res van die land doen wat Suid-Afrikaners uitstekend doen: grappe maak van ‘n ernstige saak.

‘n Sola Scriptura Insig

Die voorval vra om diepgaande gesprek. Daaraan is daar geen twyfel nie. Dit wat gebeur het, is immers simptomaties van die groter problematiek waardeur alle Suid-Afrikaners in die gesig gestaar word. Om dit te ignoreer, is gewoon onverantwoordelik. Hoe dan, sou die kontoere van ‘n teologiese gesprek hieroor kon lyk? Drie sake is veral relevant:

  • Die Bybel is uitgesproke oor rassisme. Wanneer Paulus die eenheid van die kerk bespreek – omdat die gemeentes onder sy leierskapsorg sukkel om kultuurgrense oor te steek – lê hy telkens die teologiese beginsel neer dat gelowiges in Christus een is. In Galasiërs 3 gaan hy so ver as om te sê dat as mense in Christus is, maak dit nie saak of hulle Jood of Griek (ras), slaaf of vry (status) man of vrou (geslag) is nie, is hulle één. Ons gedeelde verbintenis in Christus transendeer hierdie verdelings en gee aan ons ‘n radikaal nuwe eenheidsidentiteit. Vanuit hierdie hermeneutiese lens bekyk, is dit dus krities dat Christene in Suid-Afrika sal standpunt inneem teen rassisme in enige vorm, maar veel meer spesifiek, dat ons aktief ons gedeelde identiteit in Christus sal bevorder.
  • Die Bybel bevorder gesonde emosionele intelligensie. ‘n Groot deel van die advies wat die skrywers van etiese tekste in die Bybel gee, lê op die vlak van emosionele intelligensie: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af,” staan in Spreuke; “As jy kwaad word, moenie sonde doen nie,” staan in Efesiërs. Trouens, Paulus se beskrywing van die vrug van die Gees in Galasiërs 5 is tipiese emosioneel-volwasse eienskappe van mense wat geleer het om in beheer te wees van hulle gevoelens – Paulus help ons verstaan dat die karaktervormende werk van die Heilige Gees ‘n onmiddellike impak het op interpersoonlike gedrag. Dit impliseer gewoon dat Christene sal streef om opbouende medemenslike vaardighede aan te leer en om ‘n volwasse emosionele greep op hulle gevoelslewens te kry, deur die aktiewe inwoning van die Heilige Gees.
  • Die Bybel tree in die bres vir die wêreld se randfigure. Die laaste kontoer word gevind in die goue draad wat die Bybel weef rondom mense wat uitgeskuif word, soos vroue, kinders, armes, onderdruktes. Dis hoeka die tema van Jesus se “intreepreek” in Lukas 4 gewees, en hier het Hy uit Jesaja (waar die goue draad in die Ou Testament duidelik voorkom) aangehaal. Christene moet besef dat dit nie net ons roeping is om heilig te leef en hemel toe te gaan nie, maar om op aarde draers te wees van Goddelike hoop, geregtigheid en versoening. Die Christelike geloof is boonop nie gebore in ‘n konteks van mag en beheer nie, maar een van magteloosheid, liefde en selfverloëning. Dit is vandag steeds die roeping om draers te wees van hierdie geregtigheid deur die manier waarop mense teenoor mekaar optree. Christene sal dus in beginsel kant kies vir diegene wat onregmatig tenagekom word, teen wie gediskrimineer word, en wat nie toegang het tot formele beskermingsmeganismes en hulpbronne nie. Belangrik egter hier, is dat die standpuntinname nooit vanuit ‘n posisie van mag sal wees nie, maar ‘n sagte, versoenende stem wat vrede bring en die Heilige Gees toelaat om God se lig op die onreg te laat deurbreek.

Mense met ’n Smaak vir die Lewe

Waar laat dit ons met die Spurvoorval? Dit sou verkeerd wees om geen standpunt in te neem nie. Boonop maak die gelaaide aard van die gebeurtenis dit moeilik: enige standpunt sal gesien word as ‘n pro- of ‘n anti- posisie (iets in die lyn van, “wie nie vir my is nie, is teen my”). Uiteraard lyk die gesprek hieroor tussen gewone Christene anders as die gesprek wat gevoer sal word in amptelike omgewings. Dis egter die informele gesprekke wat die deurslag moet gee vir Christene om draers te wees van God se nuwe koninkryk. Daarom is dit juis nodig vir ons om uitgesproke te raak oor voorvalle soos hierdie.

Maar … wat sal ons sê?

Voorvalle soos hierdie bied uitmuntende geleenthede vir Christene om te getuig oor die waardestelsel van God se koninkryk: dis ‘n plek waar mense oor rassegrense heen in vrede met mekaar saamleef; dis ‘n plek waar Christus se verlossing ons in staat stel om beheer uit te oefen oor ons negatiewe emosies; dis ‘n plek waar (veral) mans doelbewus kies om met groter respek teenoor vrouens op te tree want sodoende beeld ons uit dat ons leef wat ons glo (in Christus is man en vrou gelyk); en dis ‘n plek waar ons hande vat en diegene wat verontreg word, met liefde, empatie en begrip ondersteun. En ons sal ook nie aan gesprekke deelneem wat rassevooroordele aanwakker nie – nie in persoon nie en nie met die druk van die “share”-knoppie op Facebook nie.

Want dis wat Christene doen as hulle draers is van hoop.

As jy dalk wonder: Sola Scriptura is ‘n term wat gebruik word om te sê die Bybel alleen vorm die basis van ons soeke na insig oor God.