‘N LEIERSKAPSLES OOR INTEGRITEIT

geskryf deur: Guillaume Smit

integriteitLaat ek net eers begin met ‘n belydenis: 2016 is die jaar waarin ek die Amerikaanse presidentsverkiesing volg soos ander mense hulle gunsteling sepie kyk: gefassineerd en lojaal. Wetende dat dit geen verskil gaan maak aan ons heil en sielsaligheid wie die volgende president van die Verenigde Stste van Amerika gaan wees nie, het die uitspeel van hierdie land se vernaamste leierskapskeuse my verbeelding aangegryp.

Dalk moet ek net ‘n “full disclaimer” aanbied: Sou ek ‘n burger van die VSA wees, het ek in die komende verkiesing vir Hillary Clinton gestem.  Dit is ten spyte van elke kontroversiële saak wat voor haar deur gelê is as vrae oor haar politieke loopbaan. Maar me Clinton se integriteit is al vir dertig jaar in die openbare oog. En die foute wat sy in haar loopbaan gemaak het, ook. Niks wat die gemiddelde Amerikaner ongemaklik laat voel oor haar, is nuut nie. Trouens, dis al soveel keer deur die meule van die Amerikaanse regeringsburokrasieë en hulle media-gedrewe kultuur gesleep dat ek verbaas is sy het nog nooit opgegee nie. Die vlekke in haar integriteit lê oop en bloot daar vir almal om te sien. Hillary weet dit, het verantwoordelikheid aanvaar daarvoor (al was dit soms met groot huiwering), en die hele wêreld is bewus daarvan.

clinton-trumpDis egter ‘n ander verhaal waar dit by Donald Trump kom. Sy hantering van sy kandidaatskap is ‘n uitstekende les in hoe integriteit en die gebrek daaraan ‘n leier kan maak of breek. Volgens die Oxford Woordeboek is integriteit, “the quality of being honest and having strong moral principles”. Van die sinonieme wat deur Oxford verskaf word vir integriteit, is o.a. “eerlikheid”, “betroubaarheid”, “eerbaarheid”, “ordentlikheid”, “geloofwaardigheid”. Donald se kandidatuur het die potensiaal om ‘n drywende metafoor geword waarmee integriteitlose leierskap beskryf kan word. Daarin lê lesse te leer vir Christusgesentreerde leiers. Ek dink aan enkeles …

  1. Integriteit word lewenslank gebou. Mense meet nie ‘n leier se geloofwaardigheid, betroubaarheid of eerlikheid aan die dinge wat hy of sy in die huidige oomblik sê of doen Hulle is eerder geneig om dit te meet aan ‘n mening wat gevorm is oor die volle tyd wat hulle die leier ken. Dis uiteraard ‘n ongemaklike les, want mense verander, en groei. Standpunte skuif en sienings verander. En tog dryf die krag van verhoudingsgeheue mense om hulle mening te vorm deur vorige ervarings met ‘n persoon. Neem ‘n oomblik vir Trump as ‘n  voorbeeld. Tydens die verkiesingsiklus is sy besigheidsuksesse uit die verlede bespreek; sy hantering van vroue en sy rasse-uitsprake is onder die loep geneem; sy kommunikasiestyl is gemeet aan die luisterryke openbare verlede wat hy opgebou het. Terwyl mense bereid was om hom die voordeel van die twyfel te gee, het hulle telkens sy openbare uitsprake uit die verlede onthou, dit in verband gebring met sy nuutste opmerkings en ‘n afleiding gemaak oor die gebrek aan integriteit wat dit demonstreer.
  1. Integriteit trek mense aan. Eintlik moet mens ook sê dat die gebrek aan integriteit mense aantrek. Die spreekwoord, soort soek soort, is veral van pas in ‘n gesprek oor integriteit. ‘n Goeie leier beskik oor die vermoë om mense wat soortgelyke waardes aanhang saam te trek. Mense met ‘n hoë etiese kode, voel meer gemaklik om die drome en rigting van ‘n leier met integriteit te volg as wat die krag van sy of haar visie hulle gaan oortuig. Eweneens sal leiers met min integriteit mense versamel wat in die karakter van die leier inkoop sonder om krities na te dink oor die persoon se morele rekord. In Trump se geval sien mens toenemend dat die kern van sy ondersteuners mense blyk te wees wat met ‘n groter rasse-vooroordeel leef, wat op vrees en intimidasie floreer en wat mense se persoon sal afkraak eerder as om hulle te probeer opbou. Die tipe integriteit wat ‘n leier dus uitstraal, trek die soort mens aan wat daarmee assosieer.
  1. Integriteit het ‘n intreevlak. As dit waar is dat mense nie leiers kies op grond van hulle etiese betroubaarheid nie, sou die wêreld vol leiers wees wat Hitler soos ‘n Sondagskoolonderwyser kon laat lyk. Toegegee, daar is sulke leiers. Soms neem hulle organisasies oor, met vernietigende gevolge. Meestal raak hulle met verloop van tyd uitgebak soos die interne sisteme in die organisasie terugbeweeg na ‘n punt van ewewig, waarna skadebeheer aan die orde van die dag is. Die punt is die volgende: Relatief min mense aanvaar die leierskap van ‘n persoon met ‘n skadu-agtige integriteitstandaard. Die stereotipiese toeskrywings wat mense dikwels aan verskillende leiers toeken, bevestig dit: Predikante word gesien as vlerklose engeltjies; dokters is wonderwerkers wat geen fout ooit mag maak nie; Rekenmeesters en ouditeurs is so eerlik hulle weet nie hoe om jok te spel nie. Ensovoorts. In Donald Trump se geval het sommige mense vroeg in sy kandidatuur deur sy fasade gesien en ‘n waarde-oordeel geformuleer, terwyl ‘n groot aantal eers hier teen die einde – toe sy blatante seksisme aan die lig gekom het – gesien het van watter morele kaliber hy werklik gemaak is.

‘n Laaste woord is nodig. Opmerkings soos hierdie sou geïnterpreteer kon word as veroordelend. Wie gee enigiemand immers die reg om ‘n ander persoon se lewe te evalueer? Dis immers ‘n hoeksteen van die Christelike liefde om nie fout te soek nie. Dis egter ook ‘n hoeksteen van die Christelike etiek om standaarde te verwoord. Die koninkryksroeping van leiers is immers gebou op die verpersoonliking van Jesus Christus en sy bediening.