Die Leierskapsles van ‘n Videospeletjie

deur Guillaume Smit

pokemon goDie videospeletjie Pokémon GO is aan die begin van Julie 2016 deur Niantic bekend gestel. Die speletjie werk met ‘n eenvoudige, gratis, selfoontoepassing wat die Pokémonkarakters en fiktiewe wêreld deur GPS-stellings op ‘n kaart van die gebruiker se onmiddellike omgewing projekteer. Spelers moet dan Pokémon vang, oplei en doen wat hulle voorheen op ander videospeletjie platforms gedoen het. Dit is nie vreemd om spelers met ‘n selfoon in die hand in die pad te sien afstap op soek na ‘n skaars Pokémon nie. Die app het ook openbare plekke soos parke en – klaarblyklik intensioneel – kerke omskep tot virtuele “Pokéstops” – bymekaarkomplekke vir spelers om Pokémon te vang en handel te dryf. Boonop kan mens na aangewese “Pokégyms” waar jy jou Pokémon kan oefen en sterker maak.

Die belangstelling in hierdie speletjie was groot. Tog het die moedermaatskappy dit, na toetsing in Japan en die VSA, aanvanklik net in die Verenigde State, Australië en Nieu Seeland beskikbaar gestel, om seker te maak al die operasionele uitdagings is opgelos. Teen die middel van Julie was die app beskikbaar in enkele Europese lande. Pokémon GO hou desnieteenstaande hierdie beperkte vrystelling reeds die rekord om die mees gebruikte toepassing op ‘n slimfoon te wees en verskeie nuusberigte het oor die ongekende gewildheid van hierdie app berig.

Pokémon GO is nog nie beskikbaar gestel in Suid-Afrika nie. As jy egter deur jou woonbuurt sou stap, gaan jy bes moontlik ongewone hoeveelhede jongmense met selfone in hulle hande sien rondloop. Hulle speel Pokémon GO. Vra jy uit, hoor jy hulle het met ‘n oorsese e-posrekening die app op hulle fone afgelaai, of, danksy iemand vrygewig wat die app se androidleêr op ‘n torrent webwerf gedeel het, van die internet afgelaai en geïnstalleer het.

Indien jy vertroud is met die statistieke berekeninge wat die Normaalverspreidingskurwe (ook bekend as die Bellkurwe) op kulturele ontwikkelings toepas, sal jy weet dat Vroeë Aanvaarders daardie persone is wat vinniger as die res van die bevolking inkoop in ‘n nuwe produk, gier of kulture ontwikkeling. Hulle is so min of meer 2,5 persent van die bevolkingsgroep se populasie. Die Vroeë Meerderheid is ongeveer 34% van die populasie en hulle koop in ‘n saak in op grond van die Vroeë Aanvaarders se entoesiasme oor die saak. Na hulle (tydgewys gesproke) kom die Laat Meerderheid en die Geen Aanvaarders – oftewel mense wat ‘n nuwe neiging of saak aktief teëstaan.

Wanneer Vroeë Aanvaarders opgewonde is oor hulle saak, steur hulle hul nie noodwendig aan die reëls en prosesse wat die samelewing in werking gestel het om orde te skep nie. Hulle is die draers van “Disruptive Innovation” – oftewel vernuwende verandering wat die status quo ontwrig terwyl dit ‘n alternatiewe werklikheid begin leef. Hulle sal soms uitgesproke wees oor die frustrasies wat hulle met die status quo beleef. Ander kere sal hulle net “oppak en loop”. Of, soos ons in Suid-Afrika met Pokémon GO beleef, hulle sal die strukture tot hulle beskikking benut en buite-om die reëls beweeg om te kry wat hulle soek.

Ek leer twee leierskapslesse uit die Pokémon GO fenomeen.

Eerstens is dit duidelik dat die innovasie rondom hierdie app – om mense fisies in die strate in te stuur op soek na daardie skaars Squirtle of Pincir – ‘n nuwe hoofstuk in die integrasie tussen digitale en reële werklikhede aan die skryf is. Die moontlikhede wat hier ontsluit word, is ongekend en moontlik nog nie eens behoorlik deurdink nie. Die wye aanvaarding van hierdie innoverende tegnologie toon dat mense meer gereed is vir kreatiewe innovasie as wat mens dink. Derhalwe moet leiers nie bang wees om met innovering te eksperimenteer nie.

Tweedens moet ons in ag neem dat leiers nie “Disruptive Innovation” as veranderingstrategie gaan ontgin as hulle kies om slegs met bestaande reëls en prosedures te werk nie.  Betekenisvolle verandering gaan slegs deurbreek as die groep mense wat bereid is om te waag, wat gefrustreerd is met die status quo, wat reeds nuwe spelreëls gevestig het waarbinne hulle funksioneer, toegelaat gaan word om te beweeg. Goeie leierskap is om daardie kreatiewe buite-die-boks persone genoeg ruimte te gee om verandering te bewerkstellig, en om die ontwrigting so te bestuur dat die groter groep mense in die organisasie nie vervreem word nie, maar inkoop en help skryf aan die prosesse wat nodig is om die verandering deel te maak van die operasionele hoofstroomkultuur.